Pieter-Dirk Uys antwoord Aldi Schoeman in Rapport 14 Januarie 2018

Deel jy die optimisme van baie mense dat daar nou meer hoop is vir Suid-Afrika met Cyril Ramaphosa as ANC-president?

Pieter-Dirk Uys (PDU): Na die afgelope paar jaar van rof en ontplof in die politiek is hoop ‘n kalmeerpil vir die toekoms. Ek wil optimisties bly want negatiewiteit is die kanker wat alle hoop verslind. Cyril kom met ‘n agtergrond van disipline en harde werk.

Na watter kant dink jy gaan Ramaphosa leun: Populisme, of gaan hy die ekonomie voorop stel?

PDU: Eers moet hy die kat se sandboks in Luthuli Huis skoonskrop. Daardie vet katte het dit  omtrent met hulle Saxonwold-diaree bevuil. Populisme is buitendien Julius se speelgrond.

Dink jy Jacob Zuma sal voor 2019 waai as president van die land?

PDU: Hoe gouer hoe beter. Dis soos ‘n egskeiding in die ANC en albei partye slaap nog in dieselfde bed. Twee presidente in een laager het nog nooit gewerk nie. Ek hoop Vader Jakob het sy oog op die geskiedenis. Hy kan nog uitloop met styl en goeie smaak.

Is daar iets in Zuma se oorlewingsvermoë wat jy bewonder?

PDU: Hy was hoof van sekuriteit vir die ANC tydens die gesukkel, so het hy almal se geheime. Dis sy sterkte.  Bewonder? Nee maar respekvol  bewus  daarvan en bly dis amper oor.

Wat maak jou die bekommerdste van die Zuma-era?

PDU: Ons word gewoond aan derderangse politici met vierderangse idees. Crime does pay. Na Obama kyk ek nou na die VSA en ek sug; na Mandela kyk ek nou na Suid-Afrika en ek huil.

Sommige ontleders sê Ramaphosa se oorwinning was ‘n terugslag vir die opposisie. Dink jy die DA en EFF gaan hul groei kan volhou?

PDU: Hulle is te skril, te voorspelbaar. Ek wens opposisie sal hulself herskep as alternatiewe regering. Wit geraas is hopeloos teen ‘n swart meerderheid. Te veel van die virus van korrupsie het ook van die opposisielede gevang daar op hulle morele hoë grond – wat ‘n slim donner onder hulle uitverkoop het!

Sê die DA en EFF enigiets wat jou opgewonde maak, of het hulle maar net op Zuma se                skandes gery?

PDU: Albei partye het uitsekende mense wat huiswerk doen en weet wat hulle van praat. Albei partye het ook arrogante amateurs wat ‘n taai klap nodig het. Te veel is net daar vir die geld. Daarom is dit belagrik dat ons as stemmers ons huiswerk doen. Lees, vra, besluit – en laat die goeies weet hulle’s op die regte pad. En sluit die rubbish op.

Wat wil die EFF regkry deur mense aan te moedig om bloot by universiteite op te daag, al kan hulle nie betaal nie?

PDU: Hopelik is die meerderheid jong mense wat uitsien na hul toekoms nie verlief op die EFF se vrot appels nie. Om te verstaan waar die EFF ons kan lei, google ‘Weimar Republic’ en dan ‘Adolf Hitler 1929

Dink jy onderrig behoort gratis te wees? Indien wel, op watter vlak (skool, tersiêr) en vir wie?

PDU: Alle onderwys van voorskool tot Graad 8 behoort gratis te wees om seker te maak dat almal leer hoe om te lees, te skryf, om op te tel en vrae te vra. Hoër onderwys moet gehelp word. Ons kan ons toekomstige werkers nie so onder ‘n finasiële las plaas nie. En tegniese hulp is belangriker. Opleiding om ‘n elektrisiën, bouer, loodgieter en IT-boffin te word, moet gratis wees. Dis sal ‘n groot hap uit die werkloosheidsyfer neem.

Hoe keer jy dat jy self sinies raak?

PDU: Iets wat ek op skool geleer het toe ek bang was vir kwaai onderwysers: Verbeel hulle daar sonder broek! Dieselle gaan vir leierskap en die media!

Hoe hanteer jy dit wanneer jy moedeloosheid of sinisme of morbiditeit by mense teëkom?

PDU: Om mense te laat lag is vir my die egte medisyne vir ‘n langer lewe. My werk moet altyd staatmaak op die definisie van 49% woede / 51% vermaak. Een manier om moedeloosheid, sinisme en morbiditeit te keer is: Skakel die TV af! Skeur die koerant op. Bêre die selfoon. Televisie en swak media kan meer amok maak as ‘n ANC-bul in ‘n Gupta-paleis.

Hoor jy van meer mense wat die land verlaat of wil verlaat, en wat sê jy vir hulle?

PDU: Maak ‘n lys. Aan die een kant onder A: die dinge wat jy haat in jou lewe hier. En die ander kant onder B: die dinge wat jy oor mal is. Jy sal verbaas wees hoe kort  Lys A is en hoe lank jy nog wil werk aan Lys B.

Het jou mening hieroor oor tyd verander?

PDU: My menings verander elke minuut. Maar my geloof in die goedheid van mense is altyd sterk. My optimisme is om altyd die ergste te verwag hopend dat dit nie so erg sal wees soos wat ek verwag nie. So far so good.

Watter boodskap het jy vir Suid-Afrikaners wat (steeds en ten spyte van Ramphosa se verkiesing) moedeloos is en al meer sinies raak?

PDU: Kyk in die spieël en besluit of jou huwelik met daardie gesig nog kan werk. As jy nie binne sekondes begin lag nie, neem ‘n valium.


http://www.pieterdirkuys.co.za/


Guest Author

Guest authors who have generously allowed us to publish their work. A sincere thank you to them.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll Up
%d bloggers like this: