Land Rover Discovery 5

Toe Land Rover sy eerste generasie Discovery in die laat jare tagtigs bekendgestel het, het die voertuig dadelik byval gevind. Skielik was daar ‘n hardebaardveldryer waarmee jy ook Sondag kerk toe kan ry sonder dat dit voel jy bestuur ‘n plaasimplement.

Deur Dirk Gallowitz.

Die luukser Range Rover se prys was vir meeste mense onbekostigbaar en die goedkoper Discovery was toe ‘n goeie alternatief.

Toe die sigaretmanne van Camel die Landies daarna beetkry, het dit die tafel gedek vir ‘n reeks waaghalsige avonture wat legendes gemaak het van beide die avonturiers en die oranje geverfde Disco’s wie heelhuids die uitdagings voltooi het.

Sedert die tweede generasie Discovery in die fiasko jare onder BMW, het die voertuig luukser geraak en ook meer gefokus op paddinamika, maar onbetroubaarheid en meganiese nagmerries het die Disco se naam en reputasie met ‘n plettervat grond toe gebring.

Met Ford wat toe ingegryp het  is die Disco 3 gebore. Die vreemde ontwerp was aanvanklik met groot skeptisisme onder hardebaard Landie manne bejeen,maar het tog heelwat gedoen om die Disco se naam te herstel. Die bosbreker vermoëns het egter in die slag gebly om die voertuig meer van ‘n luukse gesins-SUV te maak en minder van ‘n veldryer. Die baanbreker “Terrain Response”- viertrekstelsel het nietemin  die Discovery se reputasie as ‘n bekwame veldryer in ere herstel en was ook die begin van die elektroniese viertrekstels waar bestuurders se veldryvermoëns deur blikbreine gekomplimenteer word. Die vierde generasie Disco onder Tata eienaarskap was ‘n reuse sprong vorentoe om die Discovery te vestig as een van die beste verkopers in die segment vir luukse SUV’s. Die voertuig het luukse sedan-tipe paddinamika met wereldklas viertrekbekwaamhede gekombineer wat die Land Rover handelsmerk weer begeerlik gemaak het. Ek het ook gehou van die baksteen-tipe ontwerp –  die logiese gevolg van ‘n  Landrover ontwerpfilosofie waar “form follows function” die neergelegde reel was.

Die nuwe Discovery 5 is die produk van kliente wat al hoe meer gesofistikeerd en kieskeurig koop. Es-joe-wees raak toenemend  die voertuig van keuse en te midde van die gestoei om onder die gewildstes gereken te word moet  motorvervaardigers met meer vindingryke ontwerpe en idees vorendag kom sonder om dit wat goed werk in die asblik te gooi.

Die nuwe Discovery blyk vir my juis so ‘n kompromis, waar die beste uit die verlede met nuwe  innoverende idees gemeng is.

This slideshow requires JavaScript.

Buite is die neus herkenbaar ‘n mengsel van Discovery Sport en Range Rover Sport. Die kantprofiel se lang lyf om drie gemaklike rye sitplekke te akkommodeer het trekke na die grootbak Range Rover, terwyl die agterkant se ronde kurwes en lang agteroorhang  lomp en swaar vertoon – iets wat my as Disco aanhanger aanvanklik voor die bors gestuit het.

Binnekant is die nuwe Disco veel meer Range Rover as Discovery en pragtig afgewerk met luukse sagte leer en material van hoë gehalte. Die sitplekke is groot, baie gerieflik met elektriese verstelling. Selfs die derde ry se rugleunings kan elektries op- en platgeslaan word.  Sitposisie is hoog met die tweede en derde ry sitplekke wat na agter trapsgewys hoër geposisioneer is. Daar is meer as genoeg been-, skouer-en kopruimte om self die groot en lang bulle van die eerste rugbyspan se vaste vaste vyf gerieflik sit te maak.  Met genoeg bêreplekke, ses 12V-sokke en agt USB koppelpunte strategies deur die kajuit geplaas, sal elkeen van die 7 insittendes enige rit in groot gemak kan meeleef. Terloops die hele Disco is ‘n WiFi-sone wat tot agt fone tegelykertyd kan hanteer!

Ons het die 3.0liter V6 petrol met superaanjaging in “HSE” afwerkingsvlak getoets wat met omtrent alle luukshede beskikbaar toegerus is. Die groot panoramiese glasdak, wanneer die binnedakpaneel oopgeskuif is, skep ’n heerlike ruimtelike gevoel in die kajuit. Instrumentasie agter die stuurwiel vertoon, anders as in die Range Rover, steeds analoog met sekere funksies, soos die spoed, wat ook na digitaal verstel kan word. ‘n Groot volkleur raakskerm voor middel  bo in die voorste paneel bied toegang na omtrent alle bestuurderhulpstelsels via die Land Rover/Jaguar groep se gebruikersvriendelike en intuitiewe stelsel. Digitale beelde van hoe die 4-trek stelsel en onderstel werk wanneer jy in die veld is, asook toegang tot kamerabeelde onder en reg rondom die voertuig sal baie help wanneer daar in die veld gery word. Met die tru-kamera beelde, elektriese trekstang  en sleepstelselhulp kon ek maklik en veilig ons mobiele uitsaaiateljee aanhak, sleep en in knap plekke parkeer.

Ons Disco het oor ‘n kontrolepaneel agter teen die sy van die laairuimte gehad waar jy met die druk van ‘n knoppie die sleepstang kan uitvou en weer bêre. Daar is ook skakelaars waarmee jy die derde ry sitplekke uit die vloer kan “opslaan” en weer wegvou en ook so met die tweede ry sitplekke se rugleunings. Jy kan selfs ‘n toepassing op jou slimfoon aflaai waarmee jy die sitplekke kan plat- of opslaan terwyl jy buite die voertuig staan!

Aandrywing vir die nuwe Discovery 5 is via Land Rover se uiters bekwame  permanente viertrekstelsel en ‘n 8-gang outomatiese ratkas wat tans plaaslik met twee enjinopsies beskikbaar is. Die petrol 3.0 V6 met drukaanjaging soos met ons toetsvoertuig, lewer 250kW en 450Nm terwyl die 3.0 liter reguit turbodiesel enjin 190kW en 600Nm beskikbaar maak.

Die petrol se verrigting is lewendig met verbasende vinnige  versnelling as jy die petrolpedaal plant. Die nuwe Disco is bykans 500 kilogram ligter as die uitgaande model danksy die omvattende gebruik van aluminium. Terwyl dieselde kragbronne as in die uitgaande Disco 4 gebruik word, is verrigting en dinamika strate beter na ‘n halfton se  gewigsverlies. Hantering, paddinamika en brandstofverbruik is ook merkbaar beter. Die nuwe ontwerp met meer rondings as hoeke dra ook by tot laer sleur en windweerstand wat lei tot ‘n baie stiller kajuit op die pad, selfs op die grondpad en teen ooppad-spoed.

In die veld doen die nuwe Discovery 5 sy voorgangers se reputasie ook eer aan, sy lompe voorkoms ten spyt. Met die lugvering wat die grondvryhoogte tot 230mm oplig kan die luukse wa gemaklik deur 90cm diep water ry en dan die rivierwal moeiteloos uitklim. Landrover se uiters bekwame  4-trek stelsel bied verskillende modusse waaruit veldrytoestande,  wat wissel van sand, klip en selfs modder, aangepak kan word. Daar is ook ‘n “Auto” modus waar die Disco se rekenaar die toestande buite evalueer en dan die stelsel aanpas sodat self Bob Jaan agter die stuur soos ‘n wafferse Kingsley Holgate “ wilde” Afrika kan tem.

Ten spyte van die logge voorkoms hanteer die nuwe Disco dinamies veel beter as sy voorganger. Die  voertuig voel selfs kleiner, ligter en ratser deur die draaie. Selfs op uitdagende grondpaaie was die nuwe Disco geplant en vasvoetig. Na my week agter die stuur het die Disco 5 my nie net oortuig nie, maar selfs my hart teruggewen! Selfs die groot geronde agterkant het nie meer opgeval of gepla nie.

Die 2017 Land Rover Discovery Si6 HSE verkoop teen R1,347,800-00 en sluit in 3jaar/100,000km waarborg en 5jaar/100,000 diensplan.

Die Discovery 5 is een van die 10 finaliste vir Wesbank en SA Gilde van Motorjoernaliste se 2018 Motor van die jaar kompetisie wat vroeg Maart 2018 aangewys word. Skrywer is een van die Jurielede wie die finale beoordeling en evaluering moet doen ten einde die wenner aan te wys.


(Visited 14 times, 1 visits today)

Dirk Gallowitz

I am passionate about cars (fast ones particularly!), planes, boats and Arabian horses. (For a good name I opt to leave women out of this!). Been involved in advance driver training from middle eighties and is a full member of the SA Guild of Motoring Journalists – the guys who annually nominate, vote and announce the prestigious Wesbank SAGMJ car of the Year. From March 2017 I will also host a weekly motoring and motorsport program on Sunshine Radio 100.6 every Saturday between 1 -2pm.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll Up