2017 Mercedes-Benz S-Class Cabriolet. Dekadente opulensie

Deur Dirk Gallowitz: Mercedes-Benz S-Class.  Oopdak karre is lank nie meer ‘n nuutjie op plaaslike bodem nie, maar peperduur luukse oopdakmodelle, soos die S-klas Cabriolet, laat steeds die koppe draai.

Stuttgart se ringkoppe het die laaste S-Klas Cabriolet in 1971 gebou en geglo die SL sportmotor kan daarvandaan dieselfde doen. Nou is daar egter tog weer besluit om die S-Klas Cabriolet te laat herleef.

Mercedes Benz het vroeër vanjaar die Kaapse Skiereiland om Houtbaai en Chapmans Piek, asook die Wynlande van die Boland gekies om sy nuwe über-luukse S-klas Cabriolet modelreeks se wereldbekendstelling te hou.

Nie lank daarna nie het ek die voorreg gehad om die S500 Cabriolet aan die Weskus se eie prag bekend te stel – oopdak natuurlik, hoe dan ook anders?

Merc 500

Merc 500

Merc 500

Merc 500

Merc 500

 

 

Die S500 is die intree model in die eksklusiewe Cabriolet-reeks van die S-klas, maar die heerlike sagte ritgehalte van die model se AIRMATIC lugvering en die roggelende 4,7 liter V8 dubbelturbo enjin bring ‘n saligheid na elke rit wat oorle koningin Victoria, haar prag en praal ten spyt, nie in in haar vergulde koets kon ervaar het nie.

Bygesê, met ‘n pryskaartjie van net suid van twee punt vyf miljoen blare, mag ‘n mens seker maar neus innie lug met ‘n stywe bo-lip rondry!

Dis nou een van die duurder ‘punt’ karre volgens my maat Vollie (dis nou 1 punt agt of 2 punt 1 miljoen rand en so aan!) en soos Namakwaland se oorle oom Jan sou gesê het – “dis nou as gjeld in die vekeerde hande kom!”

Plant jy egter die regtervoet van die mooi wa, is die 0-100 kpu lopie in 4,6 sekondes verby en hou jy die voet geplant, stop die elektroniese spoedbeperker by 250 kpu – en dit kom gouer as wat jy dink. Aandrywing is deur ‘n seepgladde 9-gang ratkas na die agterwiele terwyl die enjin al roggelende sy werk doen.

Die neus is treffend sportief aggressief met “gullwing’-geinspireerde voor luginlate en die enjinkap wat soos ‘n deksel bo-oor die neus en die groot LED hoofligte vasklamp. Twee sterk aksentlyne swiep elegant langs die sye na agter om die geronde flanke en agterkant te beklemtoon. Agter is daar sterk ontwerpooreenkomste met die SLS supermotor en die twee groot luguitlate aksentueer die sportmotor-eienskappe van die S500 Cabriolet.

Ons toetsmotor is buite afgewerk in pêrelwit wat mooi met ‘n swart seildak gekomplimenteer is.

Binnekant is die kajuit oordadig luuks beklee in wit leer met klavierswart en gepoleerde aluminium afwerkings en bykomstighede wat ‘n gesofisteerde en oordadig weelderige ambiaans uitstraal.

Groot sagte sitplekke bied byvoorbeeld verwarming en verkoeling! Daar is ook heerlike masseerfunksies in die sitplekke vir die voorste passassiers! Met AIRSCARF tegnologie word warm wind van onder die kopstutte oor die nek en skouer area geblaas sodat jou nek nie onnodig koudkry wanneer jy met die dak weggevou ry nie. Agtersitplekke bied nie juis beenruimte vir groterige volwassenes nie, maar die voorste passasiers kry die volle luukse bederf!

Die sagte dak se isolering en klankdigting is verstommend goed en wanneer opgeslaan, is daar myns insiens geen verskil in die klankdigtigting van die koepee en die cabrio nie! Die dakmeganisme is ook ‘n stuk innoverende ingeneursvernuf en kan geruisloos platvou of opslaan tot en met ‘n spoed van 60kpu.

Ry jy met die dak oop, is die kajuit en die strukture so ontwerp dat insittendes ‘n geselskap kan voer met jou medepassasiers tot en met 120kpu sonder om stem te verhef! Selfs al waai die wind sterk buite is die kajuit ‘n heerlike knus kokon met die dak weggevou.

Die S-klas Cabriolet is juis so ontwerp dat oopdakry, selfs teen hoë spoed, steeds gerieflik en aangenaam is. Met die AIRCAP-funksie wat met ‘n skakelaar aktiveer, word windafleiers voor by die windskerm en agter die agtersitplek se kopstutte ontplooi wat windgeraas en dwarrel binne die kajuit beperk. Al die kantvensters moet egter heeltemal tot bo ontplooi wees.

Op die pad is die S-klas Cabriolet gemaklik om te bestuur met ‘n heerlik ligte stuuraksie en gevoel. Hantering en paddinamika is uiters goed met genoeg krag en verrigting om die asem weg te slaan. Tog is die kar nie ontwerp om ‘n sportmotor te wees nie, maar eintlik ‘n ooppad toermotor. Die enjin se piekkrag van 335kW en ‘n allemintige 700Nm trekkrag sorg vir moeitelose verrigting. Teen 160kpu luier die V8 teen 2000rpm danksy die heerlik gladde 9-gang ratkas.

Die S-Klas Cabriolet is ongetwyfeld die leier in sy klas met tradisionele opponent soos die BMW 6-reeks, Maserati gran Cabrio wat nie werklik tans kompetisie bied nie. Aston Marin, Bentley en Rolls Royce is weer heelwat duurder en ding mee in ‘n geheel ander “wereld”!

Een van die mooiste Cabriolet’s tans te koop en goeie waarde as dit met die kompetisie vergelyk word.

Dekadente opulensie vir diegene wie dit kan bekostig.

Soos kaviaar in ‘n konsentrasiekamp!


(Visited 37 times, 1 visits today)

Dirk Gallowitz

I am passionate about cars (fast ones particularly!), planes, boats and Arabian horses. (For a good name I opt to leave women out of this!). Been involved in advance driver training from middle eighties and is a full member of the SA Guild of Motoring Journalists – the guys who annually nominate, vote and announce the prestigious Wesbank SAGMJ car of the Year. From March 2017 I will also host a weekly motoring and motorsport program on Sunshine Radio 100.6 every Saturday between 1 -2pm.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll Up